Ek hou baie van mense en mense se stories. Hulle besef nie al dag dat hulle stories saadjies plant wat die grootste bome word nie. Baie toevallig (maar Amore van RSG sê nie verniet dit is TOE-VAL-LIG nie) ontmoet ek so persoon wat onbewistelik nie net sade plant nie, maar ‘n boompie water en kunsmis gee.

Liza Roux van Coutrylivingsa.blog is ‘n inspireerende vrou wat haar deel vir die natuur doen en so plastiek-vry as moontlik probeer leef.

Ribbokkloof is al ‘n geruime tyd besig met groen inisiatiewe en daarom was dit vir my so lekker om met haar te gesels. Ons ry na ‘n naweek vragte vullis weg van die chalets af. Ons herwin die glas, maar die res?

Liza Roux van Countrylivingsa.blog

Hier is so ietsie uit Liza se pen wat ons gaste en sommer reisigers oor die algemeen kan inspireer:

Ribbokkloof het my gevra om ‘n stukkie te skryf oor hoe ‘n mens ‘n meer omgewingsvriendelike / volhoubare lewe kan hê op ‘n plaas en ook hoe jy as besoeker aan ‘n gasteplaas/ reisiger jou voetspoor kan verklein.

My filosofie wanneer dit kom by ‘n meer volhoubare lewenswyse is dat ek klein verandering tel. Mens kan maklik oorweldig voel as die by ‘n meer omgewingsvriendelike leefstyl kom. Begin met ‘n klein verandering implementeer dit, oefen dit en voeg dan weer iets anders by. Soms gaan jy faal, maar meestal gaan jy nog mense inspireer om ‘n verskil te maak.

Hoe kan jy as plaas jou meer volhoubaar wees?

– Alternatiewe energie soos sonkrag

– Reënwaterversameling stelsels kan geinstalleer word om water te kry, dikwels is daar groot store op ‘n plaas, die perfekte plek om reënwater te versamelu

– Benut gryswater vir tuinmaak

– Kweek jou eie groente

– Maak jou eie komposhoop, Volgens Wikipedia word die tot die helfte van alle kos wat geproduseer word gemors, ten minste kan kosafval op ‘n omgewings vriendelike manier afbreek en weer benut word.

– Verminder die verpakking wat jy inneem en herwin dit wat moontlik herwin kan word

Hoe kan jy as gas van ‘n plaas en met vakansie jou voetspoor verminder?

Met ‘n klein bietjie beplanning kan jy jou reis en jou plaas vakansie ‘n meer omgewingsvriendelike een maak.

Voor die tyd en op die pad.

– Toiletware: dis altyd ‘n goeie idee om omgewingsvriendelik te gaan, maar op ‘n plaas is daar waarskynlik ‘n sensitiewe dreinsisteem. Pak bio-afbreekbare of pro-biotiese sepe in en maak seker jy besoedel nie die water of die dreinstelsel nie.

– Taai gesiggies langs die pad: Pak ‘n nat waslappie of drie in vir die pad, jy gaan in elk geval wasgoed maak. Bêre hul in ‘n kosblikkie in die kar, waar jy jou “wet-wipes” sou gepak het, sodat hulle altyd byderhand is om ‘n taai handjie of ‘n koffieblerts af te vee.

– Enetjie vir die pad. Skaf vir jou gesin reisbekers aan. Wanneer jy by die vulstasie stop vir ‘n koffie gee jou bekers aan en vra dat hul vir jou die koffie daarin maak. Onthou om altyd te verduidelik dat jy probeer minder vullis maak en sodoende doen jy sommer bewusmaking terselftertyd.

– Moenie suig nie. Sê nee vir eenmalige strooitjies, as ‘n gaskoeldrank nie vir jou dieselfde is sonder ‘n strooitjie nie, daar is bitter oulike herbruikbare strooitjies beskikbaar aanlyn. Pak ‘n paar in jou motor en hou hul daar vir die pad.

strooitjies
reis beker

– Maak maaltye deel van die ervaring. Pak padkos of gaan sit in ‘n restaurant wanneer jy langs die pad wil eet, sodoende vermy jy die ekstra vullis wat ‘n wegneem ete veroorsaak. Hou ‘n leë kosbllik byderhand vir die oorskiet kos of as jy moet, vra vir jou wegneem ete in jou eie houer.

– Les jou dors. Pak water in vir die reis, sodat jy nie nodig het om plastiek botteltjies te koop langs die pad nie. Onthou, as jy eers op die plaas is, meeste plase het heerlike boorgatwater wat jy uit die kraan kan drink, vind uit voor jy ry.

– ‘n Vleisie op die kole. As jy inelkgeval van plan was om jou slagter te vra om daai steak presies te sny soos jy hom wil hê neem jou eie houer saam slaghuis toe en spaar die ekstra verpakking.

– Groente vir die naweek. Deesdae het meeste supermarkte ‘n onverpakte groente afdeling, bring jou eie sakkie saam en weeg die groente af sonder plastiek. (Ek het sommer ‘n sakkie wat as wasgoed-sak verkoop word en van net materiaal gemaak is aangeskaf. Dit is lig en deursigtig en niemand vra vrae as ek groente daarin weeg nie.)  Jy sal dalk nie alles kry wat jy nodig het sonder plastiek nie, maar jy sal maklik met die helfte minder plastiek wegkom. Dis altyd beter om onnodige verpakking te probeer vermy, in plaas van om na die tyd ‘n plan te moet maak daarmee.

– Los maar die plastiek-inkopiesakke. Ja, selfs die wat allerhande groen verklarings aandui op die kant, die realiteit is, die minimum van daardie sakke word ooit herwin en die wat glo op ‘n komposhoop kan kom, kort steeds meestal spesiale omstandighede om te kan bio-afbreek. Skaf ‘n paar kleurvolle materiaalsakke en hou hul in die motor vir enige laaste minuut inkopies en goed wat rondgedra moet word. Hierdie sakke is veeldoelig, dink wasgoed, stortsak, strandsak, pieknieksak ens.

Op die plaas self:

– As jy vullis maak, gooi dit in die asblik. Vind uit of jou vakansie bestemming herwin, dan kan jy sommer blikkies, harde plastiek en glas net uitspoel na jy dit gebruik het. Dit sal die plaas se herwinnings proses aansienlik vergemaklik.

– Werk spaarsamig met water, geen rede om onnodig druk te sit op boorgate nie. Alle lewe en produksie is afhanklik van daardie water.

– Maak asof jy tuis is. Ons bespaar dikwels beter by die huis, moenie jou handdoeke na een gebruik laat was nie, skakel af (tv, ligte, lugreëling) as dit nie gebruik word nie.

– Respekteer die natuur. Bly op aangeduide wandelpaadjies om nie sodoende skade te maak en sensitiewe plantegroei te vertrap nie. Moenie inheemse plante verniel/pluk of uitgrawe nie.

– As jy ‘n roker is, wees ‘n verantwoordelike een. Dra ‘n klein lugdigte blikkie of toeskroef houertjie saam met jou en bêre jou stompies daarin as jy in die veld of ver van ‘n asblik is.

Vir nog oulike hulpbronne, raad en inspirasie kan jy die oulike Suid-Afrikaanse Facebook blad gaan volg: https://www.facebook.com/groups/reducewastesouthafrica/

Gaan loer en volg gerus  Liza se blog: https://countrylivingsa.blog/

Sy beplan hope artikels en inspirasie oor die onderwerp in die volgende jaar onder die kategorie – Volhoubare Leefstyl.

Check out other posts

3 Comments

  1. Pingback: Ribbokkloof Lodge

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Post comment