Daar is nou nie meer omdraai kans nie… hierdie blogpost moet geskryf word en maak nie saak hoe ek ander werkies vir myself uitdink nie, skryf sal hy geskryf moet word. Bittersoet, maar opgewonde!
Wat maak Ribbokkloof so anders? So spesiaal? Sedert 2000 het daar verskeie gasvryheids besighede begin in en om Ribbokkloof … sommige het toe gemaak, ander het weer oopgemaak ens… maar Ribbokkloof gaan maar nog steeds aan op sy stil, nederige manier. Ja Ribbokkloof het ook al verandering en vernuwing deur gegaan en is dit nie wonderlik nie? Die Bothma’s kan nie stagnering verdra nie, al besef hulle dit self nie altyd nie.
Wat Ribbokkloof ook onderskei van baie plekke is die geskiedenis. Ribbokkloof is soos ‘n kind in die familie…. Hy kom al jare saam en is ryk aan simboliek en stories en groei.
Groei is altyd teenwoordig en dit is belangrik, solank groei gesond bly. Al is groei soms seer of bitter is die eind resultaat soet. Groei hier geskiet ook op ons eie manier… ons doen self met die natuurlike hulpbronne tot ons beskiking.
Ek was nog altyd versot op perde. Ek kan nie ‘n tyd in my lewe onthou wat daar nie perde of ‘n perd figuur teenwoordig was nie. Later in my lewe het ek ‘n baie spesiale perd in Pretoria ontmoet. Fantasy Boy.
Fantasy Boy was soveel meer as wat sy naam beteken. Hy was ‘n droom…. Soms te vinnig, te nukkerig, te lewendig, te bang, te steeks maar ‘n droom. Hy was beeldskoon, hy was myne en hy kon spring!
Toe ek en my man van Natal Uitkyk toe getrek het, het dinge so uitgewerk dat Fantasy Boy weer op die plaas kon kom bly in die stalle wat spesiaal vir hom gebou is (want Fantasy hou nie baie van beeste nie so hoe gaan hy rus as hy dink hy is nie beskerm teen die bulkende menigte nie).
Soos my ma sal sê, die een ding roep die ander ding en kort voor lank is daar ‘n arena gebou vir dresseer oefeninge en springlesse… ‘n arena met die mooiste uitsig.
Wanneer buitestaanders na die springlesse se opwarming gekyk het, het dit na chaos gelyk, maar die wat daar binne besig was het presies geweet wie moet waar verby gaan en dit was eintlik georganiseerde chaos want soveel plesier verskaf het vir die ruiters… en dalk die instrukteer! Vir ons op die 16 hand hoog (plus) perde wat met dawerende pote om gallop, was dit absoluut “poetry in motion”
Die arena is ook gebruik vir Ponie klinieke tydens skool vakansies en klein dogtertjies (en seuntjies) het hulle gate uit geniet op daardie stukkie aarde.
Die lewe maak maar draaie met ‘n mens en ek en Fantasy Boy sal nooit weer die arena benut nie. Elke keer as ek by Ribbokkloof kom kuier het, het die stukkie aarde vir my gelê en skreeu. Hoe kan die arena sommer so staak met wat dit die beste doen? Hoe kan die “Poetry in motion” staak? Die vreugde wat dit verskaf het sommer net so verdwyn saam met die mis as die sonnetjie sy kop aan die onderpunt van die arena uitsteek?
Die idee is net daar en dan gevorm, hier moet ‘n kapel kom! Dis die logiese volgende stap in Ribbokkloof se groei proses.
Daar is sommer dadelik ingespring en ‘n grasdak konstruksie is opgerig. Dit het alles so vinnig gebeur, ek dink hulle was bang ek raak spyt en uit respek vir my weet ek niemand het aan daardie stukkie aarde gekarring nie.
Toe die dekgras ryp staan is daar manne met sekels ingestuur en die gras voorraad vir die dak is in die store gepak terwyl die dekkers angstig staan en wag.
Januarie/Februarie is die stil tyd op die plaas, maar hierdie jaar, het die trekkers nie gerus nie. Vragte klippe en sand is van oral oor die plaas aangery om die mure te bou.
My ma, het ook nie op haar laat wag nie en November 2018 is daar met ‘n tuin begin so tussen deur plant tyd, gaste en al die ander verantwoordelikhede wat op haar en die werksmag rus. Elke keer as ek kom kuier het is my asem weg geslaan.
Dit is natuurlik nog ‘n werkende proses, maar minder as ‘n jaar later staan die Fantasy Kapel trots op die arena en uitkyk oor die Wapadskloofvallei.
Hou die spasie dop! Ons deel binnekort nog fotos van die Fantasy Kapel