Deur die jare het Ribbokkloof gasheer gespeel van verskeie buitelug aktiwiteite, soos Action Racing ,wat ek altyd sal onthou as gevolg van ‘n Rifrug hondjie wat heelnag gehuil het en die atlete wat reg deur die nag oor ons terrein hardloop, fietsry en navigeer om by die uitpunt te kom wat by Kiepersol was… 24 uur van fietsry, hardloop en roei!
Daar word ook gereeld 4×4 kompetisies gehou en al ‘n bergfiets wedren of ses wat deur die plaas beweeg. My gunsteling, is die Journey wat ‘n vooraanstaande skool in die stad jaarliks onderneem en dan ‘n paar aande hier op die plaas deurbring. Hierdie Jouney toets die seuns se uithou vermoë, fisies en emosioneel, bou karakter en bou ‘n spangees wat pragtig is om te sien.
Onlangs het ‘n nuwe groep Ribbokkloof ontdek: Train by Nature.
Sandra het aan my verduidelik dat mense in stede baie maklik verby mekaar leef omdat die pas vinniger en vinniger word.
Die kampe wat hulle aanbied is die ideale geleentheid om weer jouself en mekaar te vind. Die natuur het ‘n manier om met ‘n mens te praat, jou rustig te maak en weer bietjie invoeling met jouself te bring. Dit is immers die hoof doelwit van hierdie kampe, om met mekaar, jouself en die natuur te “connect”
Tegnologie, soos selfone (ons álmal is skuldig!) het die teenoorgestelde uitwerking op ‘n mens en daarom kies hulle liggings, soos Ribbokkloof waar daar geen of die minimum selfoon opvangs is. Mens se aandag is gefokus op wat buite jou aangaan en nie hier voor jou op ‘n skermpie wat jou lewe regeer nie. Mens kan maar net ‘n eenvoudige google soektog doen om te sien wat die positiewe punte is wanneer jy jou selfoon neersit en in die natuur verkeer.
Wie kan die kampe bywoon?
Ek het natuurlik vir Sandra gevra wat die kampgangers se fiksheid vlak moet wees, want ek ken Ribbokkloof se staproete baie goed. Mense voltooi die roetes wat gestap word tydens die kamp op hulle eie tyd. Daar was selfs mense wat nog nooit ‘n roete gestap het nie. Dit is wonderlik om te sien wat dit vir die mense se selfkonsep beteken as hulle besef hulle het hierdie bergroete voltooi, iets wat absoluut buite hulle gemak zone is. En is dit nie juis waarna ons moet poog nie? Doen iets elke dag wat jou bang maak!
Hoe verloop so kamp?
‘n Tipiese kamp program is as volg:
Vrydag middag/ aand kom almal by die kampterein bymekaar waar daar om die kamp vuur geëet en gekuier word.
Saterag oggend eet almal ontbyt saam en daarna word die roete aangepak. Middag ete word erens in die natuur genuttig. By Ribbokkloof was dit bo-op die berg.
Die middag na die stap word daar speletjies gespeel en geswem.
Na die aandete word daar kitare uitgehaal en ou FAK liedjies gesing… snaaks dat mense so lekker aan die ou volk liedjies sing.
Sondag oggend na “brunch” gaan almal weer in hulle eie rigtings,
Sandra Goodchild “ Almal kom vrydae aan by die kamp en stap sondae weg as vriende en familie.”
Hierdie tipe kampe is baie popular en is so 3 maane voor die kamp datum reeds vol bespreek.
Soos ek deur die fotos gaan wat Sandra gestuur het maak dit my nie net sommer lus om ook saam te gaan kamp nie, maar ek kan sien hierdie is ‘n geleentheid vir gesinne, vriende of familie om bymekaar te kom. Almal vind baat by hierdie soort kamp en kwaliteit tyd staan vir my bo aan die lys van plus punte!
Ribbokkloof is baie maal al genader vir soortgelyke kampe, maar ons terrein is van so aard dat dit nie te groot groepe kan akkommodeer nie. Dit is juis oor hierdie feit dat Ribbokkloof die ideale terein is vir hierdie tipe unieke buitelug aktiwiteite. Kwaliteit en nie kwantiteit nie. Glad nie kommersieël nie. Uniek soos elke kamp, elke funksie en elke mens.
Die fotos roer my hartsnare. Hierdie plaas is so ‘n mooi plaas ek kan nie help om aan die liedjes: “Op berge en in dale” en Soos ‘n wildsbok” te dink nie, want hier voel en sien jy God se teenwoordigheid. Ek dink dat ons al so gewoond is om te smag na God en die natuur dat ons dit gewoond geraak het. Hier is die geleentheid om liggaam en gees te kom voed.
Kom geniet die natuur en kom voed jou siel.