Watervalle, veldblomme ribbokke, koeitjies en kalfies

Hoekom is dit so dat water mense altyd so aantrek? Telkens moet ek hoor as hier mense kom stap, is hier stroompies? Is daar watervalle of valletjies op die roete?  Na al die goeie reëns kan ek met reg sê, hier is heelwat verrassingtjies op die Ribbok roete, maar julle sal self moet kom kyk!!

Die stroompies wat in die winter opdroog het weer begin vloei.  Dis nie al nie, dis wonderlik om te sien hoe sypel water sommer uit die rotse.  As ek opkyk, kyk ek soms vas teen n klomp gladde blink klippe.

Veldblommetjies

Hierdie tyd van die jaar is dit ook ‘n Kleine Namakwaland by Ribbokkloof. Dis asof die wilde veldblomme ook die reën wil vier. Oral waar ek stap sien ek die klein geel magrietjie veldblommetjies en pragtige pers veldblommetjies. As ‘n bonus sommer ‘n plaat wilde petunias! Almal wit!  Dis ‘n gesig om te sien.  Wilde varings, orals.  Een groen plaat op die ander. Sommer ons eie tuin van Eden…

Wat is nou lekkerder as ‘n piekniek in die veld? Tussen die blomme? Vir ‘n bonus, nog ‘n watervalletjie op die agtergrond. Dit klink soos musiek… die sagte gedruis van die water. Van die meer avontuurlustiges kan in die koue bergpoele swem.

Ribbokke, koetjies & kalfies

Dis asof die bonsmara koeie met hulle oulike kalfies weet daar is pragtige blomme en watervalle. Hulle lyk heel vrolik as hulle in die kloof wei.  Die kalfies bokspring soms uitbundig. Ook hulle geniet die seisoen! As ek hulle teëkom op die staproete kyk hulle my altyd met sulke rustige tevrede oë aan, vir hulle is daar ook oorvloed.

‘n Groot bonus is as jy ‘n troppie ribbokke op die roete kry. Dis te pragtig as hulle so spring-spring wegdraf met die wit stertjie in die lug.

Ek nooi almal om ‘n dag in die natuur by Ribbokkloof te kom deurbring.

“Leave the road, take the trails”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Post comment